HOME DIGITAL PHOTOGRAPHY EBOOKS EBOEKE ABOUT NEVER DAUNTED ACCOMMODATION
ACTIVITIES HOGSBACK AS PHOTOGRAPHY DESTINATION
DIGITALE FOTOGRAFIE E-BOEK
Inhoudsopgawe
Hoofstuk 1: Definisies en terminologie
Hoofstuk 2: Die aankoop van toerusting
Hoofstuk 3: Die sensor en piksels
Hoofstuk 4: Witbalans
Hoofstuk 5: ISO en die gebruik daarvan
Hoofstuk 6: Fokus
Hoofstuk 7: Velddiepte (Depth of Field)
Hoofstuk 8: Beligting: lensopening en sluiterspoed
Hoofstuk 9: Ligskuif as hulpmiddel by beligting
Hoofstuk 10: Die beligtingsdriehoek
Hoofstuk 11: Lig
Hoofstuk 12: Ligmeting
Hoofstuk 13: Fotografiese komposisie en ontwerp
Hoofstuk 14: Spesiale aspekte van ontwerp
Hoofstuk 15: Makrofotografie
Hoofstuk 16: Blomfotografie
Hoofstuk 17: Landskapfotografie
Hoofstuk 18: Wildfotografie
Hoofstuk 19: Portretfotografie
Hoofstuk 20: Superskerp foto’s
Hoofstuk 21: Die foto is geneem. Wat nou?
Hoofstuk 22: Fotogrootte en gehalte
Inleiding
wat ook op ander plekke in die teks voorkom. Die opskrifte in die inhoudsopgawe is almal geskakel met die betrokke gedeelte in die boek.
Die motivering om hierdie boek saam te stel het ontstaan gedurende die tyd dat ek my eie kennis oor digitale fotografie, komposisie en ontwerp moes
opskerp. In samewerking met my mede-outeur, Hennie Cronjé, is die taak begin om ’n omvattende handleiding wat die volle spektrum van die basiese beginsels van fotografie en hul toepassing behels, saam te stel.
Die boek is bedoel as ’n hulpmiddel vir:
· fotograwe wat pas hul eerste kamera gekoop het en meer kennis oor die basiese beginsels van fotografie wil bekom,
· fotograwe wat alreeds ’n mate van ondervinding opgedoen het, maar meer wil weet oor die beginsels van komposisie en ontwerp en hoe om dit in
die meer algemene vertakkings van fotografie toe te pas,
· meer gevorderde fotograwe wat die grense van komposisie en ontwerp wil toets.
Die boek bevat meer as 400 foto’s ter illustrasie, maar dit is meer as net ’n versameling mooi fotos. Die teks is baie belangrik en lesers word
aangemoedig om dit met aandag te lees.
Deursettingsvermoë bring sukses. Hennie Cronjé
Die eerste 8 hoofstukke beskryf die basiese beginsels van fotografie en hoe om dit te gebruik
Basiese Beginsels
Die gebruik van ISO as deel van jou beligtinginstellings
Soos reeds genoem, is die instellings vir funksies soos ISO, lensopening en sluiterspoed so ontwerp dat dieselde reëls geld as verstellings in enigeen
van hulle gemaak word. As een vol instelling (een vol stop) op of af in die skaal beweeg word, word die beligting van die foto verdubbel of halveer.
ISO, lensopening en sluiterspoed
Uit bostaande figuur kan gesien word dat as dieselfde lensopening, bv. f16, deurgaans gebruik word, sal ’n toneel wat by ISO 100 ’n sluiterspoed
van 1/125 sek. benodig by ISO 200 slegs 1/250 sek. benodig want by ISO 200 is die sensor dubbeld so sensitief as by ISO 100. By ISO 400 sal die sluiterspoed dienooreenkomstig slegs 1/500 sek. wees. Hierdie vermoë om waardes maklik tussen die verskillende skale uit te ruil, verskaf
merkwaardige soepelheid in die bepaling van die korrekte beligtinginstellings wat vir ’n foto benodig word en maak die deur oop sodat jy groter
beheer kan neem oor die instellings wat vir ’n spesifieke foto benodig word.
Vir ’n kamera om ’n beeld wat skerp gefokus is vas te vang, word die ligstrale wat vanaf die objek weerkaats word deur ’n lens op 'n punt in die
sensor gekonsentreer. Die prinsiep word in die figuur hieronder geïllustreer.
Beginsels van fokus
Wat in bostaande figuur vir ’n enkele punt geïllustreer is, geld natuurlik vir elke ander punt in die objek. Dit is baie belangrik om in ag te neem dat
slegs dele van die objek wat in dieselfde vlak is as die punt waarop gefokus is, in skerp fokus sal wees. (Dié vlak word die fokusvlak genoem.)
Punte wat nader aan die lens is as die punt waarop gefokus is, asook punte wat verder weg geleë is, sal minder skerp gefokus wees. Die volgende
figuur illustreer die fokusvlak.
Slegs punte wat op fokusvlak FV, wat die punte X en Y verbind, lê, sal in skerp fokus wees.
Die histogram
Nog ’n belangrike stukkie gereedsap wat tot jou beskikking is om te verseker dat jou beligting korrek is, is die histogram. Die effek van die ligskuif
wat ’n mens met die +/- knoppie maak, kan in die histogram gesien word. By die meeste kameras is die histogram beskikbaar onmiddellik nadat jy die
foto geneem het en as jy geleer het om dit reg te gebruik, kan dit ’n belangrike wapen in jou beligtingsarsenaal word. Die foto’s wat volg, illustreer
die voorkoms van die histogram vir ’n foto wat oorbelig is, een wat onderbelig is en een wat korrek belig is.
Hoofstukke 13 en 14 behandel belangrike aspekte van ontwerp en komposisie
Hoofstuk 13
Fotografiese komposisie en ontwerp
Goed ontwerpte makrofoto. Hennie Cronjé
Visuele ontwerp fotografie
As ons na die wêreld om ons kyk, kyk ons na ’n toneel waarin daar visuele chaos heers soos in die volgende foto van Lego-blokkies weerspieël word.
Daar is geen orde in die toneel nie. Alle elemente is teenwoordig maar in wanorde.
In die wanordelike versameling bo kan ’n mens verskeie elemente wat in ontwerp gebruik kan word,
onderskei. Daar is reghoeke, driehoeke, vierkante, sirkels, ovale, verskillende kleure en verskillende teksture.
As daar gekonsentreer word op die elemente van die foto hierbo en hulle word reg aangewend, kan daar
’n mooi prentjie van hulle gemaak word soos in die foto hier langsaan gesien kan word. Hier is orde en stabiliteit en dit is strelend op die oog.
Die Legoblokkies van die Lego-elementefoto kan gesien word as die boustene om die mooi prentjie in die foto hierbo te maak. Net so is die elemente
van visuele ontwerp die boustene van ‘n treffende foto.
1. Kontras - In lig en kleur.
2. Lyne - Vertikaal, horisontaal, diagonaal.
3. Vorms - Driehoek, reghoek, sirkel, ovaal.
4. Divers - Tekstuur, herhaling (ritme) en perspektief in grootte en diepte.
Hoofstukke 15 tot 19 behandel ‘n aantal belangrike soorte fotografie.
Hoofstuk 15
Makrofotografie
Makro-detail. Simon Joubert
’n Instar larwe van die ‘Blue Pansy’ vlinder wat besig is om te vervel. Die larwe is omtrent 3mm lank. Canon MPE 65 lens en MT-24EX
flits. (www.facebook.com/simon.joubert.5)
Makro-bewustheid
Die genre van makrofotografie maak vir ons ’n wêreld oop wat ons eintlik nooit kan raaksien nie. Dit stel ons in staat om vir die eerste keer die
skoonheid, treffende detail en verstommende kleure van objekte wat wissel vanaf relatief groot, soos spinnekoppe vlinders en blomme, tot baie klein,
soos vlinder-eiers en hul struktuur, na behore te kan waardeer.
Definisie van makrofotografie
Makrofotografie kan gedefinieer word as die fotografering van ’n objek op kort afstand met ’n element van vergroting.
Hoofstuk 16
Blomfotografie
Iris met bypassende agtergrond. Hennie Cronjé
Blomfotografie is een van die mees bevredigende soorte fotografie. Daar is ’n bykans eindelose verskeidenheid vorms, lyne, kontras, tekstuur en kleure
tot jou beskikking en die beste van alles is dat al hierdie moontlikhede vir jou wag die oomblik as jy jou huis verlaat. Jy hoef nie bekommerd te wees
oor watter toerusting jy moet inpak of hoe die weer gaan wees as jy by jou fotografiebestemming aankom nie. As jy nie so gelukkig is om ’n tuin te hê
nie kan jy ’n kwekery of ’n bloemiste besoek, jou materiaal koop en huistoe neem!
Blomfotografie moet egter nie onderskat word nie. Om goeie blomfoto’s te neem, vereis net soveel beplanning en aandag as enige ander soort fotografie
en vereis ongetwyfeld dat meer aandag aan detail gegee word as wat die geval is by baie ander soorte fotografie. Om ’n unieke, treffende en kunstige blomfoto te neem, behels baie meer as net om die knoppie te druk. As ’n mens die mik-en-druk benadering volg, mag jy selfs af en toe ’n mooi foto neem
maar daar is ’n wêreldse verskil tussen ’n goeie foto en ’n skitterende foto wat mense amper sal verplig om weer en weer te wil kyk. As jy jou kamera
ken, bereid is om te leer, bereid is om te eksperimenteer met die tegnieke wat beskryf word en om dit in jou fotografie toe te pas, behoort jy in staat te
wees om jou blomfotografie te verhef van goed na skitterend.
Die beginsels van komposisie is reeds bespreek en dit is nou net nodig om jou weer daaraan te herinner: Reël van Derdes, balans, patrone, vorms,
simmetrie, lyne, herhaling, leidende lyne, jou posisie t.o.v. die toneel, gebruik van natuurlike rame, plasing van jou trefpunt in die raam, ens. Hierdie is universele beginsels en as jy die foto in die ‘view finder’ opstel, moet hulle altyd nog voorop in jou gedagte wees.
Hoofstuk 17
Landskapfotografie
Treffende duinetoneel. Hennie Cronjé
Die goue reël
As jy landskapfotografie wil doen en jy wil foto’s met die ‘wow’-faktor neem, is dit uiters noodsaaklik dat jy landskapfotografie se goue reël volg.
As jy nie bereid is om hierdie reël nougeset te volg nie sal dit beter wees om jou kamera te verkoop en ’n poskaart in die snuisterye winkel te koop!!!
Die reël
Daar is net twee tye van die dag - en net twee- wat geskik is om uitsonderlik-mooie landskapfoto’s te neem: sonop en sononder. Jy behoort jou
landskapfoto’s te neem van omtrent 30 minute voor die son opkom tot 30 minute daarna en van 30 minute voor sononder tot 30 minute daarna.
Waarom net hierdie twee tye?
Die rede is dat die gehalte van die lig gedurende hierdie tyd van die dag op sy beste is. Dit is die tyd van die dag wanneer die sonlig die omgewing
waar jy jou behoort te bevind met ’n vlak hoek binnekom. Die lang afstand wat die lig deur die atmosfeer trek, veroorsaak dat al die skerp, koue kleure uitgefiltreer word en dat net die sagte, warm kleure soos geel, oranje en rooi oorbly en hierdie kleure kan ’n baie ordinêre toneel in ’n wonderwêreld omskep!! Dit is om hierdie rede dat hierdie tye onder fotograwe bekend staan as ‘die goue ure!!’
HDR (Hoë Dinamiese Reikwydte)
Die meeste tonele of objekte wat afgeneem word, bestaan uit ’n verskeidenheid kleurtone - van donker kleurtone tot ligter kleurtone. Die term
dinamiese reikwydte is die term wat gebruik word om hierdie spektrum van kleurtone te beskryf. Sommige tonele bevat ’n wyer spektrum kleurtone
as ander (m.a.w. die een toneel bevat donkerder donker tone en ligter ligte tone as die ander een en sy dinamiese reikwydte is dus groter). Hoe
groter die verskil is tussen die donkerste donker toon en die ligste ligte toon, hoe groter (of hoër) is die dinamiese reikwydte van ’n toneel.
Die HDR proses en ander soortgelyke tegnieke word in besonderhede beskryf.
Hoofstuk 18
Wildfotografie
Flaminke in vlug. Hennie Cronjé
In Suid-Afrika is ons baie bevoorreg om ryk bedeeld te wees met wildlewe. Elke fotograaf sien daarna uit om ’n foto te neem van ’n pragtige voël in
vlug, ’n brullende leeu of selfs ’n unieke insek op ’n blaar of blom. Eenvoudig is dit nie en voornemende fotograwe moet hulle vergewis van die
vereistes en riglyne verbonde aan hierdie soort fotografie.
In wildfotografie is apparaat van die grootste belang. Die belangrikste vereistes is as volg:
Die X-faktor
Dinge gaan soms vinnig in wildfotografie of iets gebeur onverwags. Dan kan mens nie aan alles dink nie en maak jy maklik ’n belangrike fout met jou
kamera of komposisie. Die geheim is oefening en ervaring. Hoe meer jy fotografeer, hoe makliker kom alles in plek.
Die tweede ding is daardie unieke gebeurtenis, iets wat jy waarskynlik een keer in ’n leeftyd gaan beleef. So iets kan natuurlik bloot per toeval gebeur.
As jy egter diere, voëls en insekte se gewoontes ken, kan jy jouself betyds posisioneer. Dit maak die kans vir daardie spesiale oomblik net soveel beter.
Hoofstuk 20
Superskerp foto’s
Superskerp Josef Steyn
As jou foto, of ten minste die belangrike deel daarvan nie skerp is nie, is jou moeite tevergeefs en sal jou foto nie slaag nie.
Hierdie is harde woorde, maar baie waar. Jy mag ’n pragtige toneel voor jou kamera hê, die lig mag uitstekend wees, jou komposisie mag 100%
reg wees maar as jy die foto geneem het en dit is nie skerp nie mag jy dalk opmerkings soos die volgende kry: “Pragtige toneel, jammer dit is nie
goed gefokus nie”. Geen fotograaf wil sulke opmerkings hoor nie en moet dus alles in sy vermoë doen om sy foto’s skerp gefokus te kry. Daar is
nie ’n towerstaffie wat ’n mens kan gebruik om foto’s skerp te kry nie. Skerp foto’s kan alleen verkry word as jy bereid is om ’n hele reeks
aksies te implementeer en deur noukeurig aandag aan detail te gee.
Die boek sluit ook detail beskrywings in van verskeie tegnieke wat gebruik kan word in moeilike fotografieringsomstandighede
en om spesiale effekte te bereik.
Spesiale tegnieke in blomfotografie
‘Selective focus stacking’
Soms is dit onmoontlik om die hele blom in skerp fokus te kry selfs al word ’n klein lensopening gebruik. In sulke gevalle kan die tegniek van
‘selective focus stacking’ gebruik word. Met hierdie tegniek word verskeie foto’s geneem en elke keer word op ’n ander vlak, al verder van die
kamera af, gefokus. Agterna kan die foto’s dan in een foto gekombineer word deur programme soos Photoshop of Zerene Stacker te gebruik.
'Focus stacking'. Josef Steyn
Fotografie is ’n reis met baie eindbestemmings en soos enige reis begin dit met die eerste tree. Begin dus dadelik. Pak jou kamerasak, rus jou toe
met kennis, begin stap en geniet die reis!!
Fotografie is ’n reis. Hennie Cronjé
Wie kan baat vind?
Fotograwe wat pas hul eerste kamera aangeskaf het en graag meer te wete wil kom oor die basiese beginsels van fotografie.
Fotograwe wat reeds die basiese beginsels onder die knie het en inligting benodig oor komposisie en ontwerp.
Fotograwe wat reeds oor ‘n redelike mate van ervaring beskik en wat graag die grense van komposisie en ontwerp wil toets en hoe om sommige van digitale fotografie se meer gevorderde tegnieke te benut.
Om hierdie e-boek te bekom, e-pos my en dui aan of jy in Suid-Afrika of elders woonagtig is. Reelings ten opsigte van betaling en aflewering sal per kerende e-pos volg.
Prys: Persone wat in Suid-Afrika of 'n buurland wat die Suid-Afrikaanse Rand as betaalmiddel gebruik, R300.
Bankkoste wat betaalbaar mag wees, sal vir die rekening van die klient wees.
Internet oordragte in Suid-Afrika is kosteloos.
Oorsese kliente, of persone wat verkies om via PayPal te betaal, US$30
HOME DIGITAL PHOTOGRAPHY EBOOKS EBOEKE ABOUT NEVER DAUNTED ACCOMMODATION
ACTIVITIES HOGSBACK AS PHOTOGRAPHY DESTINATION